Our passion lies in breeding top quality Dormers that perform under real farming conditions. Overberg Dormers presteer landwyd
Deur Johan Eyssen
Om vir nege jaar agtereenvolgens aangewys te word as die wenner van die Suid-Kaap slaglamkompetisie, asook ‘n vierde plek Nasionaal te behaal, wil gedoen wees. Veral gemeet aan die gehalte van kleinvee in die Suid-Kaap waar kompetisie tussen boere hoog i
s. Dit is juis wat Johannes du Toit van Remkuil Dormers , naby Caledon met sy gehalte Dormers reggekry het. Is dit goeie genetika, of dalk uitstekende bestuur of beide?
“Die Dormer is ‘n uitstekende vleisras om mee te boer. Dit is ‘n hoogsaanpasbare skaap wat bykans op alle dele in ons land kan floreer. Dit is ‘n geharde dier met uitstekende vleiseienskappe. Deurdat sy lammers baie klein is, word min probleme by geboorte ondervind. Die lam groei egter baie vining en is op speenouderdom alreeds markgereed,” het Johannes verduidelik. Die Dormer is daarom ook uitstekende ras om mee tekruisteel, veral op die Wol- sowel as Vleisrasse. Moedereienskappe
Johannes wys ook daarop dat die Dormerooi oor baie goeie moedereienskappe beskik en ook baie vrugbaar is. Alhoewel twee- en drielinge aan die orde van die dag is, is dit egter nie vreemd om selfs vier-, vyf- of seslinge te kry nie. Deurdat die ooie oor voldoende hoeveelheid melk beskik is verskeie vierlinge al deur so ‘n ooi self grootgemaak.
“Ek hanteer die stoet soos my kommersiële kudde in die veld en glo natuurlik glad nie in lamhokkies nie. Die dier wat ek grootmaak en verkoop moet goeie moedereienskappe onder eksterne omstandighede openbaar. Ek voel net dat swak moedereienskappe in lamhokkies weggesteek kan word of liewer nie ge-eien kan word nie,” het Johannes op gewys. Sy lampersentasie is sowat 180% en speen 140 tot 145%. Sy lamtyd is tussen Junie en Julie en dan weer in Oktober/November. Volgens hom probeer hy die jong ooitjies so gou moontlik dragtig kry en sit hulle inMei by die ram en lam hulle in Oktober. Johannes wys daarop dat hy juis sy lamseisoene so vasgestel het, sodat die skaapboerdery by sy hoofvertakking, nl graanverbouing, kan inpas en daar nie oorvleueling van die werksaamhede plaasvind en die bestuur van die boerdery bemoeilik nie. Bewaringsboerdery
“Ons plant sowat 1700 ha graan waaronder koring, gars, hawer, canola en lupiene en het ongeveer 700 ha aangeplante lusernweidings. Ons plant inApril/ Mei en oes in November/Desember. Derhalwe is dit noodsaaklik dat die lamtye by die stelsel inpas en nie daarby inmeng nie. Voorts is ons op Remkuil baie omgewingsbewus en beoefen bewaringsboerdery,” het hy op gewys. Jacques Marais, bestuurder van Remkuil Boeredery, deel hierdie sentimente en bevestig dan ook dat die Dormer eintlik ‘n baie maklike ras is om mee te boer. In die eerste plek is dit ‘n nie-selektiewe vreter en is nie maklik vatbaar vir siektes nie. Ons ent wel ons diere teen bloutong,bloednier en pasteurella. Jong ramme word ook met REV1 geent. Volgens hom is dit ‘n geharde dier met uitstekende vleiseienskappe en ‘n egalige vetverspreiding oor die hele karkas. Dit is dan ook een van die redes hoekom Remkuil die slaglamkompetisie so gereeld wen. Die Dormer vaar ook uistekend in voerkrale en is uiters gesog by Abbatoirs. Seleksie belangrik
Op Remkuil maak hulle ook ten volle van die BLUP stelsel gebruik om soveel inligting moontlik vir rekorddoeleindes by te hou, vir eie gebruik en vir poteniële kopers.
“Alhoewel ons van ons eie ramme in ons teleingsprogram gebruik, koop ons ook jaarliks ramme van bekende telers. Die aanvraag is groot vir die ras en daar is al meer belangstelling,” aldus Jacques. Ons selekteer vir ooie met goeie moederseienskappe , hoe vrugbaarheid en goeie melkproduksie. Maar wanneer het die Du Toits besluit om met die Dormer Stoetery te begin? “In die laat 1970’s het my pa by Japie Neethling (Verfheuwel) 40 Dormer stoet ooie gekoop en ons het toe sommer ramme vanaf die plaas verkoop. Ek het in 1993 die stoet by my pa oorgekoop nadat ek my graad in Landbou-ekonomie (Hons) by die Universiteit van Stellenbosch behaal het.”
Tans boer Johannes met 2500 Merino ooie, 3000 Dormer ooie asook 500 Dormer stoetooie en 50 Angus Vleisbeeste.
“Ons verkoop Dormer ramme en ooie jaarliks op 3 veilings nl. Caledon Ramveiling op Caledon , Weskaap Dormer veiling in Worcestor(21 Aug 2015) en die Dormer Nasionale veiling op Bloemfontein (5 Sept 2015). Ek verkoop ook ramme en ooie vanaf die plaas,” het Johannes gesê. Gewoonlik sit hy sowat 20 ramme op ‘n veiling en het hy verlede jaar R21 000 vir ‘n ram gekry en in 2013 R22 000 en op die Nasionale Veiling in Bloemfontein R17 000 vir’n ooi. Dit was dan ook die duurste ooi op die veiling. Die beste prys wat hy tot dusver vir ‘n ram gekry het, was R42 000 in 2012 op die Nasionale Veiling in Bloemfontein. Vir meer inligting kontak Johannes du Toit by:
082 897 0624 of [email protected]
Dormer Promosie