Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros) is ʼn privaat Christelike hoëronderwysinstelling wat roepingsgedrewe studente oplei om die onderwysprofessie met kundigheid te betree. Die onderwyslandskap in Suid-Afrika is dinamies met heelwat uitdagings en ʼn groot tekort aan onderwysers. Aros wil graag studente toerus om ʼn verskil in die onderwyslandskap te maak. Hier geniet ongeveer 2 100 stu
dente ʼn unieke studentelewe. Hier gaan jy vriende maak, kollegas ontmoet en hard werk! Dis 'n fees om 'n Arrie te wees! Aros maak van ’n uiters toeganklike afstandsonderrigmodel vir alle kurrikulums gebruik deur middel van ‘n e-leerplatform. Hierdie platform staan as e-Klas bekend. Lesings word vooraf opgeneem, en lesingmateriaal word gedurende die week waarin die lesing geskeduleer is aanlyn opgelaai. Studente word verder deur middel van interaktiewe aanlyn sessies ondersteun, asook deur kontaksessies op kampus wat op ‘n vrywillige basis bygewoon word. Die afgelope jare het gewys dat Aros-studente gedurende hulle studie tot selfstandige studente ontwikkel wat baie goed in die onderwysomgewing funksioneer. Met die akkreditasie en registrasie van Aros op 23 Januarie 2012 as privaat instelling wat BEd in Grondslagfase-onderrig aanbied, is ‘n nuwe en dinamiese era betree. Die akkreditasie van die Diploma in Graad R-onderrig in 2015 en BEd in Intermediêre Fase-onderrig in 2016 het vinnig gevolg. In 2020 ontvang Aros akkreditasie by die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding om vanaf 2021 twee nuwe onderwyskwalifikasies aan te bied. Dit sluit die BEd in Senior Fase (SF) & Verdere Onderwys- en Opleidingsonderrig (VOO), asook NGOS (Nagraadse Onderwyssertifikaat) in Senior Fase (SF) en Verdere Onderwys en Opleidingsonderrig (VOO) in. Al die Aros-kurrikulums is geskoei op die patroon van die nuutste besinning en nadenke oor onderwysopleiding in Suid-Afrika. In hierdie opsig beskik Aros dus oor ‘n nuwe en eietydse program. Die uniekheid van Aros se program lê in sy toewyding aan:
* Christelike wetenskapsbeoefening: Onderwysersopleiding word gesetel in ‘n Bybelse opdrag en singewing. Onderwys is 'n gawe uit die hand van Christus en hierdie uitgangspunt vorm die ruggraat van ‘n waardegedrewe opleidingsprogram.
* Beroepsgerigte opleiding: Alles wat onderrig word, moet na die klassituasie in die onderwyspraktyk deurgevoer word. Aros-studente skakel minstens een dag per week by skole in as deel van die amptelike opleidingsprogram. Op hierdie wyse word verseker dat die opleiding werklik gerig is op die sinvolle onderrig van kinders in die klassituasie. Daar word ook van studente verwag om vanaf die derde kwartaal in die eerste jaar 'n meer gestruktureerde proeftydperk in hul praktiese onderwysperiode in 'n spesifieke graadklas te doen.
* Innovasie en kwaliteit: As privaat tersiêre onderwysinstelling streef Aros voortdurend daarna om innoverende onderwysersopleiding aan te bied en om hoë akademiese standaarde te handhaaf en uit te bou.
* Roepingsgedrewe studente: Studente word begelei om die onderwysberoep ten eerste as 'n roeping van die Here te ervaar en te aanvaar. Wanneer onderwys as 'n roeping gesien word, gee dit sin en betekenis aan die onderwysberoep. Suid-Afrika het goed opgeleide en goed gemotiveerde Christenonderwysers nodig. Sodoende kan geloof, hoop en liefde aan die volgende geslag oorgedra word, wat tot voorspoed en voordeel van die land sal strek. Aros-alumni beskik oor beroepsgerigte opleiding en leef hul Christelike waardes in die klaskamer uit. Hulle is hoog in aanvraag in privaat en openbare skole, asook in 'n verskeidenheid van ander opvoedkundige instellings.